Die Rosekrans
‘n Wyse van kontemplasie wat ons
tot die sentrale geheimenis van ons geloof lei:
Jesus Christus, Mensgeword!
‘n Wyse van kontemplasie wat ons
tot die sentrale geheimenis van ons geloof lei:
Jesus Christus, Mensgeword!
DIE HEILIGE ROSEKRANS
INHOUD
In Oktober, 2002, verskyn daar ‘n Apostoliese Brief van pous Johannes Paulus II met die titel Rosarium Virginis Mariae (oftewel Die Rosekrans van die Maagd Maria). Hierdie brief vanuit die pen van die hoogste gesag in die Kerk beklemtoon weereens die waarde en ryk geestelike skat wat daar in dié eeu oue gebedsvorm te vinde is. Wêreldwyd is mense besig om opnuut die Rosekransgebed te ontdek as ‘n uitstekende gebedsdissipline waardeur ‘n mens se verhouding met die Here Jesus Christus versterk en verdiep word. Vir die pous is die Rosekrans nie net ‘n reeks meditasies oor die lewe van Ons Verlosser soos gesien deur die oë van sy Moeder; terselfdertyd is dit ook ìn smeekgebed tot Christus met Maria saam en word ons versterk en gedra deur haar moederlike voorspraak.
Die ontstaan van die Rosekransgebed soos ons hom vandag ken is hoofsaaklik te danke aan die Dominikaners wat deur die eeue hierdie spesiale devosie gekoester en versprei het. Vanaf die vroegste tye het dié Christene, wat nie kon lees nie, die tradisionele gebedstye van die Kerk met gebede gevul wat maklik gememoriseer kon word.
Hulle het die psalms en Skriflesings wat die priesters en kloosterlinge gebid het met eenvoudige gebede vervang. So is die 150 psalms aanvanklik deur die bid van 150 Onse Vader-gebede vervang.
Mettertyd is die 150 Onse Vader- gebede deur eenvoudiger Wees gegroet-gebede vervang. Sekere belangrike gebeure (geloofsgeheimenisse) uit die lewens van Jesus en Maria is tussen dié gebede ingevoeg. Hierdie geheimenisse is aanvanklik in drie groepe van vyf elk ingedeel (in 2002 het die pous ‘n vierde groep geheimenisse; die Ligryke geheimenisse, bygevoeg). Die pous noem die Rosekrans ‘n manier van verkondiging, asook ‘n wyse om ons geloofskennis te verdiep, en dit is inderdaad die doel van die geheimenisse
- om dié spesifieke insidente op so ‘n wyse te oorpeins dat ons geloof verdiep en ons eie verkondiging van dié geloof so aangehelp word. Die Rosekrans kan dus gesien word as ‘n samevatting van die Evangelie en dit is onteenseglik waar dat die bid van dié eenvoudige bedesnoer deur die eeue vir derduisende mense hul verhouding met Christus versterk en verdiep het en ook baie heiliges opgelewer het.
Die Rosekrans is ‘n metode van kontemplasie wat ons van aangesig tot aangesig bring met die sentrale geheimenis van ons geloof: die verlossende Menswording van Christus. Met geheimenis word nie geheim, versteking of geheimhouding bedoel nie, inteendeel ‘n geheimenis is ‘n openbaring van God aan ons. Ons menslike beperktheid en swakheid veroorsaak egter dat God se geheimenisse vir ons ‘n lewenslange ontdekking is. In ons verhouding met God vind daar ‘n aanhoudende openbaarmaking van nuwe insigte en fasette omtrent ons geloof plaas - nooit sal ons aan die einde van hierdie wonderlike ontdekking- en verkenningsreis kan kom nie. Dit is die wonder van ons geloof: dit is voorwaar onuitputlik omdat ons hier met die ewigheid te make het.
Die Rosekransgebed bied ons ‘n besondere geleentheid om hierdie grenslose aspek van ons geloof te bepeins. Dit alles geskied in ‘n gees van verwondering. Die opeenvolgende herhaling van die Wees Gegroet-gebed word ‘n onophoudelike lofsang tot Christus; Hy wat deur die Engel se begroeting aan Maria aangekondig word.
Begin die Rosekransgebed deur die klein krusifiks wat aan die krale geheg is te soen en die kruisteken te maak, terwyl u bid:
In die naam van die Vader, en van die Seun, en van die Heilige Gees.
Bid nou die Apostoliese Geloofsbelydenis: Ek glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde; en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, onse Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die Maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig, gestorwe en begrawe is; wat neergedaal het na die doderyk, die derde dag weer opgestaan het uit die dode, opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, vanwaar Hy sal kom om te oordeel, die lewende en die dode. Ek glo in die Heilige Gees, die Heilige Katolieke Kerk, die gemeenskap van die heiliges, die vergewing van sondes, die wederopstanding van die vlees en die ewige lewe. Amen.
By die daaropvolgende kraletjie word die Onse Vader gebid: Onse Vader, wat in die hemel is, laat u naam geheilig word; laat u koninkryk kom, laat u wil geskied soos in die hemel net so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood, en vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe, en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Amen.
By die volgende drie kraletjies word die Wees Gegroet-gebed telkens vir die intensies van die pous gebid: Wees gegroet, Maria, vol genade, die Here is met u. Geseënd is u onder die vroue en geseënd is Jesus, die vrug van u skoot. Heilige Maria, Moeder van God, bid vir ons sondaars, nou en in die uur van ons dood. Amen.
Nà die laaste een van dié drie kraletjies word die Eer aan die Vader... gebid: Eer aan die Vader, en aan die Seun, en aan die Heilige Gees. Soos dit in die begin was, so ook nou en altyd, tot in ewigheid. Amen.
Beginnend by die medalje word die eerste Geheimenis wat bepeins word aangekondig. Verkieslik word ‘n gepaste Skrifaanhaling hierby gebruik. ‘n Kort verposing vir stille meditasie volg nou. Hierna volg die Onse Vader-gebed (nog by dieselfde kraletjie) en daarna word die volgende tien kraletjies met tien Wees gegroet-gebede afgebid. Die ritmiese aard van dié gebed bly gefokus op die heilige naam van Jesus en so word die hart verhef en die verstand verlig.
Ná die tiende kraletjie word die Eer aan die Vader...gebid en dan word die dekade van dié spesifieke geheimenis as volg met die Fatima-gebed afgesluit: O my Jesus, vergewe ons, ons sondes, red ons van die hellevuur. Lei alle siele na die hemel toe, veral dié wat u genade die meeste nodig het. Amen.
Die tweede en daaropvolgende geheimenisse word op dieselfde wyse gebid. Wanneer al die geheimenisse van ‘n spesifieke groep gebid is kan daar óf voortgegaan word met die volgende geheimenisreeks óf kan die Rosekransgebed met die Kruisteken afgesluit word.
Die Wees Gegroet Koninging (Salve Regina), Die Koningin van die Hemel (Regina Caeli) of Moeder van die Verlosser (Alma Redomptoris Mater) KAN ook gesing of gebid word MAAR IS NIE VERPLIGTEND NIE en vorm NIE DEEL VAN DIE AMPTELIKE ROSEKRANSGEBED NIE.
WEES GEGROET KONINGIN
- SALVE REGINA -
(Hierdie gebed word gewoonlik tydens die gewone tyd van die Jaarkringgebid)
Wees gegroet Koningin, Moeder van deernis; wees gegroet ons lewe, ons troos en ons hoop. Ons, die banneling kinders van Eva, roep u aan; tot u smeek ons, sugtend en wenend in hierdie tranedal. Wend u barmhartige oë tot ons, o Voorspreekster, en toon aan ons ná hierdie ballingskap, Jesus, die geseënde vrug van u skoot. O goeie, o liefdevolle, o soete Maagd Maria.
V/. Bid vir ons, o Heilige Moeder van God
R/. Dat ons die beloftes van Christus waardig mag word.
V/. Laat ons bid: O God, u eniggebore Seun het deur sy lewe, dood en opstanding vir ons die loon van die ewige lewe verkry.
R/. Gee dat ons, nadat ons die geheimenisse van die heilige Rosekrans van die geseënde Maagd Maria oordink het, mag navolg wat hulle inhou, en verkry wat hulle belowe; deur Jesus Christus, onse Here. Amen.
KONINGIN VAN DIE HEME L
- REGINA CAELI -
(Hierdie gebed word gewoonlik tydens die
Paastyd gebid)
V/. Koningin van die hemel, verheug u, R/. halleluja!
V/. Want Hy, wat u waardig was om te dra, R/. halleluja!
V/. Het opgestaan soos Hy gesê het, R/. halleluja!
V/. Bid vir ons tot God, halleluja!
V/. Verheug en verbly u, Maagd Maria, R/. halleluja!
V/. Want die Here
het waarlik opgestaan, R/. halleluja!
Laat ons bid: God onse Vader, deur die opstanding van u Seun, onse Here Jesus Christus, het U die wêreld met groot blydskap geseën. Ons smeek U: laat ons, deur die gebede van sy moeder, die Maagd Maria, die vreugde van die ewige lewe verkry. Deur onse Here Jesus Christus, u Seun, wat met U en die Heilige Gees, leef en regeer, God, vir ewig en altyd. Amen
MOEDER VAN DIE VERLOSSER
- ALMA REDEMPTORIS -
(Hierdie gebed word gewoonlik tydens die
Adventstyd gebid)
Liefdevolle Moeder van die Verlosser, hemelpoort en ster van die see, staan u gevalle volk by soos ons probeer om weer op te staan. Die natuur staan verwonderd oor die feit dat u die Skepper kon dra en steeds ‘n maagd bly. U, wat Gabriël se blye begroeting ontvang het, ontferm u oor ons arme sondaars. Amen.
Die Rosekrans word afgesluit met die kruisteken
DIE BLYE GEHEIMENISSE
(HIERDIE GEHEIMENISSE WORD GEWOONLIK OP MAANDAE EN SATERDAE GEBID)
Die kenmerk van die eerste reeks geheimenisse is die blydskap wat hulle uitstraal. Hierdie vreugde spruit voort uit die groot gebeurtenis van Jesus se Menswording. Om die Blye Geheimenisse te oorpeins, is om die diepste betekenis van Christelike vreugde te probeer begryp. Dit is die Blye Boodskap. Maria neem ons aan die hand om die bron van Christelike blydskap, Hy wat vlees geword het, te ontmoet.
1ste Blye Geheimenis
Die engel bring die boodskap aan Maria
2de Blye Geheimenis
Maria besoek Elisabet
3de Blye Geheimenis
Jesus word in die stal gebore
4de Blye Geheimenis
Jesus word in die tempel aan God opgedra
5de Blye Geheimenis
Jesus word in die tempel teruggevind
Latynse teks van
die Wees Gegroet-gebed
Ave Maria, gratia plena,
Dominus tecum.
Benedicta tu in mulieribus,
et benedictus fructus ventris tui, Iesus.
Sancta Maria, Mater Dei,
ora pro nobis peccatoribus,
nunc et in hora mortis nostrae.
Amen.
DIE LYDINGSGEHEIMENISSE
(HIERDIE GEHEIMENISSE WORD GEWOONLIK OP DINSDAE EN VRYDAE GEBID)
In die evangelies word daar ‘n ereplek toegeken aan die Lydingsgeheimenisse van Christus. Vanaf die vroegste eeue het Christene, veral gedurende die Vastyd, op devosionele wyse die insidente van Jesus se Passie oorpeins. Die gebruik om die Kruisweg te bid het hieruit gevloei.
1ste Lydingsgeheimenis
Jesus bid in doodsangs tot sy hemelse Vader
2de Lydingsgeheimenis
Jesus word gegésel
3de Lydingsgeheimenis
Jesus word met dorings gekroon
4de Lydingsgeheimenis
Jesus dra sy kruis na Golgota
5de Lydingsgeheimenis
Jesus sterf aan die kruis
DIE GLORIERYKE GEHEIMENISSE
(HIERDIE GEHEIMENISSE WORD GEWOONLIK OP WOENSDAE EN SONDAE GEBID)
Christus is baie meer as die Gekruisigde Hy is ook die Opgestane! Die Rosekransgebed lei ons deur die pyn en donkerte van die Passie na die glorieryke lig van die Opstanding en Hemelvaart. Deur die Verrese Christus te oorpeins ontdek ons weer die redes vir ons eie geloof
1ste Glorieryke Geheimenis
Jesus staan op uit die dode
2de Glorieryke Geheimenis
Jesus vaar op na die hemel
3de Glorieryke Geheimenis
Die Heilige Gees daal neer op die apostels
4de Glorieryke Geheimenis
Maria word in die hemel opgeneem
5de Glorieryke Geheimenis
Maria word in die hemel gekroon
Die Rosekransgebed is soveel dinge: meditasie, kontemplasie, sowel as kategese en ‘n nuwe evangelisasie.
Ons lewe in ‘n wêreld wat hunker na betekenis en lewensdiepte. Die geheimenisse van die Rosekrans bied ons die geleentheid om beide die self-dissipline van ‘n gebedsvolle verhouding met ons Here op te bou, sowel as om ons geloofskennis op ‘n sinvolle en verrykende wyse te verdiep.
Deur heel die Rosekrans- gebed word ons bewus van die ondersteunende teenwoordigheid van Maria, en weerklink haar woorde aan die dienaars by die tweede Ligryke Geheimenis in ons ore: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen” (Johannes 2:5).
DIE LIGRYKE GEHEIMENISSE
(HIERDIE GEHEIMENISSE WORD GEWOONLIK OP DONDERDAE GEBID)
Christus is die “lig van die wêreld” (Johannes
8:12). In ‘n sekere sin is die hele geheimenis van wie Christus is een groot Liggeheimenis, tog is daar sekere beduidende oomblikke in die openbare lewe van Jesus Christus waar hierdie op ‘n besondere wyse na vore kom. Elkeen van hierdie geheimenisse is ‘n openbaring van die Koninkryk van God soos aanwesig in die persoon van Jesus..
1ste Ligrykegeheimenis
Die doop van die Here in die Jordaanrivier
2de Ligryke geheimenis
Die openbaring van onse Here by die huweliksfees te Kana
3de Ligrykegeheimenis
Die verkondiging van God se koninkryk en die oproep tot berou en bekering
4de Ligrykegeheimenis
Die verheerliking van onse Here
5de Ligrykegeheimenis
Die instelling van die Heilige Eucharistie
Kopiereg ©1997 - 2024 AfrikaansKatoliek asook Die Oratorium Uitgewery™ - Alle Regte Voorbehou.
Verskaf deur 'GoDaddy Website Builder'
We use cookies to analyze website traffic and optimize your website experience. By accepting our use of cookies, your data will be aggregated with all other user data.